‘As ek vandag ‘n besering moes kry – en ek kan nie weer sport speel nie. Of my Wiskunde en tale laat my so in die steek – dat ek gestroop word van alle prestasies. Wie bly dan oor?
Wie is ek dan tussen al my mede skoliere?”

2025 het vir my soos ’n baie onwerklike jaar geklink, en vandag, op die laaste dag daarvan, klink dit nóg meer onwerklik dat die jaar reeds op sy rug lê. Dit was nie net ’n jaar nie, maar ’n spieël—’n weerkaatsing van wat was, wat gegroei het en ons vorm.

Ek het gister my 27ste verjaarsdag gevier. Ek het baie oproepe en WhatsApps ontvang, geskenke gekry en sommer lekker deurmekaar geëet. My verjaarsdag bly vir my belangrik, en ek is nie bang om hardop aan te kondig: “Dis my b-day vandag!” nie.

2025 was ook die eerste jaar wat ek voltyds ekstra Rekeningkunde-klasse begin aanbied het. Saam met dit het opwinding, oorweldiging en ’n groot aanpassing gekom. Om te sê ek het gesukkel om in ’n roetine te kom en gewoond te raak aan my eie dagbestuur, is menslik.

Een van die grootste aanpassings was om soggens gou deur die mall te hardloop sonder om skuldig te voel omdat die meeste mense reeds by die werk is. My werksure begin 14:00 tot 21:00 en om mense te hoor sê “living the life” het my gedurig frustreer en soms innerlik gereeld verwar en omgekrap.

Ek onthou die dag toe God vir my, in ’n kliënt se kantoor, baie duidelik gesê het Hy gaan my nie eendag roep as Jani die rekenmeester nie. Ek dink ook aan die drie Graad 10-meisies in 2023 wat my finaal laat besluit het: hierdie is die passie wat ek wil uitleef. Hierdie is wat my laat tick.

Onlangs groet ek iemand wat verlede jaar by my ekstra klasse was. Ons lag en gesels oor haar eerste jaar op universiteit, toe sy skielik vra:

“Huil die meisies nog steeds so by jou as hulle ’n slegte dag gehad het?”

“Ja,” antwoord ek, “nog al die pad.”

Ons lag, en sy sê: “Dis goed. Dis nodig.”

Terwyl ek wegstap, besef ek in die frustrasie—wanneer mens soms net wil aangaan met klas aanbied—is dit werklik goed en nodig dat leerders ook die spasie gegun kan word om te sê hoe hulle voel en om hul emosies te toon oor ’n dag se gebeure, is een van die grootste geskenke wat ek hierdie jaar kon ontvang. Kom ons stel hom so: Alles gaan nie net oor akademie nie. Onderrig begin wanneer iemand veilig voel.

Om met hoërskoolleerders te werk is soos om ’n tuin vol verskillende plante te versorg—elkeen groei op sy eie tempo:

Iemand is altyd laat (of is op die gholfbaan), iemand lees nooit die WhatsApp-groep nie en die Graad 10’s vergeet altyd om hul huiswerk te doen OF selfs wat die huiswerk is.

Volgede is wanneer twee sommer verlief raak in die ekstra klas terwyl twee glad nie van mekaar hou nie. Dan is daar ook altyd iemand wat vergeet om op Zoom te unmute of dat hul skerms aan is.

Matrieks is bereid om ure lank klas by te woon waar ander grade miskien net ekstra klasse bywoon om van die koshuis te ontsnap. Daar is altyd iemand wat hul boek in Kathu vergeet en die manne sal altyd dink dis goed om net van rugby af op ’n warm somersdag ekstra klas toe te kom.

Laastens, ‘n lig sal altyd aangaan die dag wanneer iemand besef, ek moet eintlik net my formate leer. Die geheim is egter, meerderheid van ons is werklik altyd net honger wanneer ons sukkel om ‘n som reg te kry. Dan ook, daar is altyd iemand wat Rekeningkunde wil los totdat hulle hoor dat hulle die beste in die klas gedoen het.

En o jinne, al hierdie dinge hierbo hou jou regtig nederig.

Maar die mooiste van alles bly: iemand wat regtig nie Rekeningkunde verstaan nie stelselmatig opgewonde raak wanneer ’n liggie aangaan.

Elkeen wat op sy eie tempo groei is ook maar net in sy eie seisoen van die lewe.

Elke leerder het my gevorm. Ja, dis waar—’n mens leer soms baie meer by jonger kinders. Hulle vrae het my skerper gemaak, hulle emosies het my meer empaties gemaak, en ek het besef:

You can’t be everything to everyone.

My dankbaarheid hierdie jaar—buiten gesondheid en liefde—is elke leerder wat ingestap het, elke ouer wat in my geglo het, en die geleentheid om elke dag te kan doen waarvoor ek lief is. En bo alles is ek dankbaar vir God se leiding, om te doen waarvoor ek lief is terwyl ek 100% op Hom kon vertrou.

My 2025-dagboek is vol. Nie omdat ek noodwendig alles reg gedoen het nie, maar omdat ek elke dag opgedaag het—soms met oorgawe, ander dae met min motivering.

En dit wys vir my een ding baie duidelik:

Hierdie is eintlik nog net die begin.

Liewe Die Rek Klas-leerder of -ouer, indien jy hierdie inskrywing lees, sê ek vir jou dankie. Dankie vir elkeen se betrokkenheid, harde werk en dat ons mekaar se kwartaal én jaar saam beter kon maak.

Mag elkeen ‘n goeie, gesonde, vol lag en vol kosbare tye saam met geliefdes in 2026 beleef!


Lewer kommentaar