Ons het hierdie jaar die Kersgeskenke-uitstappie bitter fyn gesny. Vroeg Upington toe, eers ’n smoothie by Bean Tree, en toe, vol moed, reg vir die winkels.

By die eerste winkel, wat reeds toe is vir die feesseisoen, het ons besef die dag gaan langer uitdraai as beplan. Tweede winkel aangekom, waar geen item selfs op ’n afstand soos ’n Kersgeskenk gelyk het nie, het dit duidelik geraak: ons is in die moeilikheid.

Maar soos een van vanoggend se opskrifte in Die Burger dit so treffend stel, al ons aankope het toe wel die Mall se kasregisters laat klingel!

Toe ek klein was, het ons Kersfees in Hartenbos of op Oupa se plaas in Kakamas gevier. Ek en my niggie het soos engeltjies aangetrek en geskenke uitgedeel. In Hartenbos het ons oukersaand die Kerssangdiens by die amfiteater bygewoon en daarna, met opgewondenheid, Kersgeskenke oopgemaak.

Ons jaarlikse Kersbome wat van huisgesin tot huisgesin opgeslaan word, herinner ons daaraan dat ons deel is van ’n eeue oue tradisie wat oor kontinente strek. Van palmtakke tot strandbome. Dit is wie ons is.

Alhoewel Jesus se geboortedatum nie noodwendig 25 Desember is nie, is dit wel die dag waarop ons Sy geboorte herdenk. Ons vier die wonderwerk daarvan. Ons wins is dat Jesus gebore is om vir ons te sterf.

My hart is vandag by almal wat in die volgende twee dae ’n ander tipe Kersfees vier—’n Kersfees sonder perfekte omstandighede, ’n stil Kersfees, of ’n Kersfees sonder ’n geliefde.

Want kom ons erken dit eerlik: die tafel word gedek, die kos staan warm, ons lag en deel geskenke uit— maar daar is ’n stoel.

Die stoel wat ons so hard probeer vermy. Die leë stoel.

Ek staan vanoggend op met die wete dat ek nie meer dieselfde mens is as laas Kersfees nie. Ek sien groei. Ek sien emosionele krag. Ek sien al die leap of faiths wat ek hierdie jaar moes neem—en laastens hoe God saam met my my passie gebou het en iets mooi, iets betekenisvol, daaruit laat groei het.

Wanneer ons Kerstafel anders lyk, leer ons vinnig om te lag met ’n knop in die keel. Ons vermy om steeds plek te maak vir iemand wat ons mis en ons vermy nog meer om oor hulle te praat. Maar iemand se afwesigheid vandag en môre beteken nie vergetelheid nie. Hulle sit dalk nie meer fisies saam op Kersdag nie, maar hulle bly deel van ons stories.

En dit maak môre se Kerstafel steeds vol.

Mag jy vandag en môre geniet—’n bietjie asem haal en die seisoen waarin jy nou in jou lewe is, koester.

Geseënde Kersfees!


Lewer kommentaar