
Ek is nou die dag in Steers. ’n Man langs my vra hoeveel iets kos, maar toe hy besef hy het nie genoeg kleingeld nie, draai hy om en stap uit. Net daar hoor ek hoe die Heilige Gees vir my sê ek moet vir hom koop wat hy wou hê.
Terwyl hy sy bestelling insit, vang ek halfpad op wat hy sê en dink hy wil roomys koop. Maar toe is sy bestelling eintlik net sewe leë foam cups. Ek dink nog: Ai, sewe koppies teen R4 elk – hy kon net sowel sewe roomyse bestel het!
Toe hy vir my dankie sê – vir die koppies, ja, maar ook omdat ek en die sekuriteitswag hom teruggeroep het – besef ek hoe mooi sy bedoeling eintlik was. Hy wou sy vriende bederf met koeldrank wat hulle saam onder die boom kon geniet.
Die vrou agter die toonbank glimlag later vir my, want ek wou eintlik niks bo R80 bestel nie… en toe eindig die rekening op R110 as gevolg van sewe foam cups.
Ek besef dis deesdae moeilik om die son op almal te laat skyn. Meer kras gestel – ons sukkel om mekaar iets te gun.
Ons is so ingestel om te vergelyk, om beter te wil wees as die persoon langs ons, dat ons vergeet hoe mooi eenvoudige goedheid kan wees. As ek vir die man gesê het: “Nee man, ek koop eerder vir jou sewe roomyse,” sou ek sy hele vibe “gekill” het.
Ek wonder soms hoe alles sou lyk as dit nie vir die slang in Genesis was nie. Sou ons sagter gewees het? Meer gegun het? Gelukkiger rondgeloop het? Nog hier gewees het?
Maar weet jy… in hierdie vinnigpassende AI-wêreld kan ons steeds vir mekaar dinge mooi maak — net deur mekaar iets te gun.
Die son laat skyn.
Vanoggend sien ek in my gedagtes hoe die man en sy vriende gister die koeldrank in die Steers foam cups onder die koelteboom geniet het. Ek sien hoe hulle lag, lekker gesels en die hitte afsluk. En ek besef: ek hoef nie altyd oor te vat nie. Soms moet jy net vir iemand wees.
Die son hoef nie net op my en jou te skyn nie. Hy mag ook skyn op iemand wat ons nie eens ken nie. Hierdie son is so groot – laat hy op almal skyn.