Ek het gisteraand sommer belsuit dis tyd om bietjie te braai. Die skooljaar lê einde se kant toe, die ekstra klasse is besig om minder te word, en hoekom dan nou nie. Ek het vir my doritos gaan koop, vleis ontdooi en braaibroodjies begin maak. So alleen moet ek erken, was toe nou vreeslik lekker.
Na gisteraand het ek besef dat ons vrouens miskien hier en daar vir die manlike geslag ‘n paar verskonings skuld. Want met die lang pienk rok en kaalvoet so tussen die kombuis en braai het ek ‘n paar goed besef:
Dit is nie lekker om vuur te maak as dit 36 grade is nie.
Charcoal braai is nou nie regtig braai nie.
Daar is ‘n rede hoekom julle die hout eers wil fyn kap.
As die blits vinnig verdwyn, ons vrouens weet waarheen dit is, of meer spesifiek, hoekom dit so vinnig op is.
Laastens, jou kole is alles.
My kole was nog te warm toe die braaibroodjies moet op. Jy ken seker die drill – x2 brand vinnig swart terwyl die ander twee sukkel om te braai. Ons moet luister wanneer daar om die braaivleis vuur gesê word die kole is reg vir braaibrood as jy jou hande 20 sekondes bo die kole kan hou.
So outomaties terwyl die braaibroodjies nog gaar kom, besluit ek dat ek nie die gebrande brood gaan eet nie. Maar weet jy, op die ou einde is die belangrikste dat die braaibroodjies gaar moet wees. Ons kan as ons wil die swart afkrap.
Kom ons gesels oor die moets en moenies van hierdie gewilde Suid Afrikaanse tradisie. Jan braai plaas nou die dag ‘n video waar hy op sy braaibroodjie ‘n kombinasie van kaas, chutney en tamatie simba chips saam met die normale braaibroodjie bestandele, opsit.
Ek weet darem nie so mooi daaroor nie. Hy sit net nie lekker in my mond nie.
Ons word groot met die braaibroodjie wat bestaan uit uie, tamatie, botter en kaas, Van die ou mense sê dat die kaas later eers iewers bygekom het. En blykbaar het die mayonaise/chutney opset iewers kop uitgesteek.
Vir my is daar verseker vier belangrike dinge:
Die botter kom aan die binnekant – ons maak nie toast nie!
Almal eet nie uie nie (Hierdie uie situasie in ‘n slaai het al een Kersmiddag aan tafel lelik omgegooi)
Wees versigtig met die sous.
Om jou braai en geselligheid te geniet moet jy asseblief nie die tamatie te dun sny nie. Ja, die victorinox mes is skerp, maar in daardie oomblik is die tamatie sny belagriker as jou vinger.
Oom Frik sal verseker met sy boepens, voorskoot nog aan en tang in die hand, nie net vir jou nie maar vir almal in die hospitaal braaibroodjies bring indien jy ‘n glips met die mes gehad het. Hy gaan dan mos braaibroodjie koning wees.
Ek dink dis tyd vir ‘n “Braai out” onder al ons braaibroodjie-konings wat ons ken. Jy is sommer heel eerste uit as jy met jou bruin brood opdaag.
Dit sal verseker ‘n lekker lag aand wees.
‘n Suid Afrikaanse braaibroodjie is nie soos ‘n koue McDonalds chippie nie, hy IS op sy lekkerste die volgende oggend wanneer jy jou roes afgeslaap het. Ek deel een van ons goeie vriende se braaibroodjie resep. Hanno het dit een aand op ‘n kamp naweek vir ons gemaak:
Wit brood
Botter
Sagte kaas skyfies
Tamatie (Onthou Dun is belangrik)
Uie (Vra tog net)
Lekker cream cheese van jou keuse
Metode: Swaai en laat waai!
Wanneer jy volgende keer jou braaibroodjie eet, onthou van waar af jy kom en ook die ver pad wat jy gestap het om tot daar te kom. Ons vergeet hoe baie ons gebid het om te wees waar ons nou is.
Laastens, ‘n voorbeeld van ‘n feit in my Afrikaanse taal eksamen vraestel jare terug sou wees:
“‘n braaibroodjie proe die lekkerste by die see.”
Ek dink nogals Meneer Oupie sou dit regmerk.
x


