Die Fontein op Hoërskool

6 November 2025

Ek was in 2017 in matriek.
Dorpskomitee. Bestuurskomitee. Sub-redaktrise. VCSV-kringleier. En iewers tussen dit alles het ek nog hokkie ook gespeel en baie van my Master Maths klasse gehou.

Ek noem dit nie om te spog nie.
Ek noem dit omdat ek weet dat jy, soos jy nou sit en lees, ook besef:
al daardie titels maak eintlik nie saak nie. Veral wanneer jy ná skool, op 19, moet leer wie jy werklik is sonder enige naamplaatjie.

Dit was ’n jaarlikse tradisie by ons skool dat die bestuurskomitee besluit watter geskenk namens die matrieks aan die skool gegee moet word. Daar was ’n effense ontnugtering toe ons hoor die besluit is reeds geneem: ’n fontein moes voor een van die seunskoshuise opgerig word.

Kyk, ons was kwaad.
Maar ons het ook gelag.

En dit is hoe my storie met die fontein begin.

Ons het lank die fontein verpes.
Ons het grappies daaroor gemaak, oë gerol wanneer iemand dit noem, en altyd weer teruggedink aan wat ons eintlik vir die skool wou koop.
Dalk het ons dit so erg verpes omdat dit, op die ou einde, regtig mooi was.

Ons skool was altyd mooi: netjies en modern.
Ons was trots op ons skool
Dit het ons elkeen stil-stil beter laat voel en hoop gegee dat die toekoms wat vir ons voorlê, ook mooi sal wees.
Die fontein se mooi was, sonder dat ons dit geweet het, ons inspirasie.

Iewers het ons heeltemal gemis hoe dinge ons laat voel.
Ons het vasgekyk in hoeveel iets kos of die langtermyn effek wat dit op ons menswees sal hê.
Asof waarde net ’n syfer is, en nie meer ’n gevoel mag wees nie.

En toe, hierdie week lees ek ’n hoofstuk in ’n boek.
’n Hoofstuk oor hoe ons as vroue grootgeword het om te glo dat ons mooi moet wees — iets wat ons moet vashou, bewys en wys.
Maar eintlik gaan dit oor hoe ons ons skoonheid moet ontvou.
Dis reeds geskep (deur God) — ek en jy moet dit net oopvou.

Uit die boek:

“A teacher in the city insisted on putting up a fountain and flowers in the courtyard of the building because children need to be inspired. They need to know life is better. Because beauty inspires.” – Captivating.

Dit was vir my so ironies!

Ek glo die oggend toe ek dit lees, het God my sommer hard oor die fingers getik oor die fontein van ag jaar gelede.

Ek sê nie jy moet alles koop wat voor jou oë is nie.
Maar ek vra: koop die ding wat jou weer mooi laat voel.
Wat jou weer laat asemhaal. Luister na wat jy soms verdien.
’n Klein stukkie mooi inspireer en bring waardigheid terug.

Nou ja toe, wat gaan jy vir jou gaan koop? My Shein het verlede week opgedaag.


Lewer kommentaar